21 June 2014 | Willem Jordaan | Rapport
Opposite Mandela deur Tony Leon. Uitgewer: Jonathan
Ball. Prys: R220. Resensent: Willem Jordaan
* Die boek is ook beskikbaar op Kalahari.com teen R189 of as ’n e-boek teen R110.
Is oudpres. Nelson Mandela ’n heilige of ’n Machiavelli? Dit is een van die vrae waarmee Tony Leon homself konfronteer in Opposite Mandela.
Ongekende internasionale rou oor ’n staatsman – tereg gekenmerk deur ’n uitstorting van lof en eerbewyse – het gevolg ná Madiba se dood op 5 Desember 2013. G’n mens is net goed of net sleg nie, en daarom is dit vanselfsprekend dat hierdie perspektiewe in die proses van geskiedskrywing met kritiek getemper sal word.
In die tyd wat voorlê, sal baie van hierdie perspektiewe geboekstaaf word, en Opposite Mandela is ’n belangrike bydrae tot die historiese post mortem waaruit die veelkantigheid van Mandela – die goed én die sleg – noodwendig in groter balans gebring sal word.
Die feit dat Leon as leier van die DP (voorganger van die DA) oorkant Mandela in die opposisiebanke gesit het, plaas sekerlik ’n sekere historiese plig op sy skouers om ’n vername aandeel aan dié projek te hê. Net soos wat dit nie maklik kon wees om dié internasionale ikon die politieke stryd aan te sê nie (of om nee te sê vir ’n uitnodiging om lid te word van Mandela se kabinet), is só ’n nadoodse kritiese beskouing ’n moeilike taak.
In teenstelling met sy verhouding met oudpres. Thabo Mbeki, is Leon se verhouding met Mandela uit sy oogpunt gekenmerk deur warmte en wedersydse begrip, afgewissel met oomblikke van groot politieke spanning.
As sodanig skryf Leon in aansienlike detail en met groot waardering oor verskeie persoonlike interaksies, insluitend telefoonoproepe, etes saam, Mandela se teenwoordigheid op sy 40ste verjaardagparty en sy ingreep toe die ANC Leon se pa (regter Ray Leon) wou brandmerk as een van apartheid se “hanging judges”.
Dié waardering keer Leon egter nie om Mandela ook krities in oënskou te neem nie, en uit ’n geskiedkundige oogpunt is dít juis waar die boek se waarde lê.
Die skrywer wys byvoorbeeld uit dat die ANC-regering se grypsug en korrupsie reeds in Mandela se tyd posgevat het met onder meer die berugte wapenkontrak.
Hy meen dat Mandela se morele status hom in ’n unieke posisie geplaas het om die toenemende neiging om te keer, maar dat hy nagelaat het om sterker op te tree.
Ander kritiek sluit in Mandela se geneigdheid om hom aan die neus te laat lei deur sy persoonlike lojaliteit teenoor individue, wat op politieke oordeelsfoute aan sy kant uitgeloop het.
’n Kwarteeu nadat F.W. de Klerk aan die bewind gekom het, verskaf die boek ook fassinerende perspektiewe op hoe Mandela met De Klerk en ander in die opposisiebanke omgegaan het.
In hoofsaak vertel dit die storie van ’n man wat hulle as teenstanders benader het eerder as vyande, soos wat die praktyk onder Mbeki geword het.
Opposite Mandela is dus veel meer as bloot persoonlike vertellinge oor twee politieke teenstanders se verhouding. Dit is toeganklik geskryf met ’n sterk historiese bewussyn wat dikwels dien as heenwysing na huidige politieke kwessies.
Só byvoorbeeld is terloopse besonderhede van Leon se stram verhouding met Mbeki waarskynlik geen toevalligheid nie. Die feit dat die man wat vandag in Leon se parlementêre stoel sit, Mmusi Maimane, ’n groot aanhanger van Mbeki is, is bepaald ironies.
Namate die debat oor die toekomstige rol van die DA momentum opbou, gaan dié boek belangrike konteks verskaf.
Besonderhede van pres. Jacob Zuma se destydse rol en opkoms, asook van die verloop van die ANC se Mafikeng-konferensie, gee potensieel nuwe insig in wat verwag kan word onder Zuma se idee van “ ’n tweede fase van oorgang”.
In die jare wat kom, gaan die rakke in boekwinkels nog kreun onder die gewig van skrywers wat hul persoonlike belewenis van Mandela weergee.
Leon se weergawe verdien sy plek as ’n geskiedkundige perspektief met ’n deurdagte kritiese element.
Willem Jordaan is adjunkredakteur van Die Burger. Hy het gedurende Leon en Mandela se termyn uit die parlement verslag gedoen.
No comments:
Post a Comment