Tuesday, May 7, 2013

Tony bewys hom as ’n verteller soos min


Bookmark and Share

5 May 2013 | Jan-Jan Joubert  | Original Publication: Beeld

 
The Accidental Ambassadoris ’n subjektiewe vertelling deur ’n fyn waarnemer wat ook maar mens bly, skryf Jan-Jan Joubert.

Wat gebeur agter die mure en deure van ’n hedendaagse Suid-Afrikaanse ambassade? En wat is die aard en doel van ons land se buitelandse beleid?

Dit is die twee vrae wat Tony Leon, jare lange opposisieleier en tot onlangs die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Buenos Aires (verantwoordelik vir Argentinië, Uruguay en Paraguay), trag om te beantwoord in hierdie boek waarvan die titel terugspeel op die ekonoom John Kenneth Galbraith se beskrywing van sy termyn as Amerikaanse ambassadeur in Indië in die Kennedy-era.

Die boek is ook ’n voortsetting van Leon se omvattende outobiografiese vertellings, On The Contrary, wat in 2008 verskyn het.

Daarom is daar ’n lang aanloop tot sy vertrek na Argentinië, waarin sy laaste twee jaar as parlementslid (ná sy uittrede as DA-leier in 2007) en sy betrokkenheid by Harvard en by die Cato-instituut in Washington DC beskryf word.

Hierdie vroeë deel van die boek is nie die sterkste deel van die vertelling nie, en dit sal die skrywer dalk gemoedsrus gee as hy besef en aanvaar dat sy opvolger, Helen Zille, nie betrokke was by die groep wat in 2006 begin geluide maak het dat hy as partyleier moet terugstaan nie. Daardie groep se hoofspeler, die Oos-Kaapse woelgees dr. Tertius Delport, is heeltemal goed daartoe in staat om selfstandig en om sy eie redes die politieke water op te klits, soos hy ook sedertdien bewys het.

En om te impliseer dat Zille selfs sou twyfel daaroor om vir Sandra Botha te stem as parlementêre leier is ’n mistasting.

Leon was versigtig om in 2007 nie die stryd om sy opvolger aan te wys te oorheers nie.

Dieselfde geld Zille se rol in die wedloop om die DA se parlementêre leierskap tussen Botha en Delport.

Waar die boek vlam vat, is wanneer Leon vertel van sy tyd in Argentinië.

Enigiemand wat hom ken, weet sy belesenheid, intellektuele skerpheid, humor en taalvaardigheid maak hom ’n gespreksgenoot en verteller soos min.

Hy het ook die sonderlinge vermoë om op papier niks van sy impak as raconteur in te boet nie, so die boek lees heerlik.

Boonop is sowel die Suid-Afrikaanse diplomatieke korps as die huidige Argentynse bewind van pres. Cristina Kirchner absurd genoeg dat Leon se skerp waarnemingsvermoë en selfs skerper tong tot hul reg kom deur die oorvertel van sappige vignettes wat die tone laat krul.

Om dit hier oor te vertel, is om dit te bederf, so ek gaan nie, maar ek het dikwels hardop gelag by die lees van die boek. Sy beoordeling van ’n Argentynse skoonheidskompetisie, sy vertellings oor die ampswoning en sy beskrywings van die Argentynse staatsdiens is die beste. Sy uitwys van parallelle en verskille tussen die Suid-Afrikaanse en Argentynse samelewings stem mens tot instemmende nadenke. Die pit van die boek vind jy teen die einde wanneer Leon op sy kenmerkende en kosbare reguit, priemende wyse Suid-Afrika se buitelandse beleid ontleed.

Sy oorwoë en toegeligte gevolgtrekking dat ons buitelandse beleid koersloos en beginselloos is, en dat dit ’n bespotting maak van oudpres. Nelson Mandela se onderneming dat dit op die uitbreiding van menseregte sal berus, is ongelukkig heeltemal in die kol.

The Accidental Ambassador is ’n subjektiewe vertelling deur ’n fyn waarnemer wat ook maar mens bly.

Beslis die moeite werd om aan te skaf. ­

– Jan-Jan Joubert is Beeld se politieke redakteur

No comments: